Ingestuur deur Wanda Uys
Hallo daar
Hoop almal het 'n wonderlike feesgety met goeie visvangs gehad die vakansie. Nuus hier van ons kant af is dat die Seevarkies gedurende Desember vakansie 6 marlyne gehaak het waarvan 2 gelaai is en die ander losgelaat is. Op 31 Desember het die boot Mrs SEEVARKIE met Elize Smith as skipper en Leandri, Helga en Christine die boot gelanseer om hul "Lady Luck" te probeer. Ons wou spesifiek vir Leandri 'n marlyn gaan soek. Aas was skaars die oggend en ons het na een en 'n halfuur op see twee klein geelvin tunatjies gehaak. Die een het ons geswem en die ander een het ons vir Pappa Varkie gegee om ook hul geluk te probeer. Na ongeveer tien minute het 'n marlyn die aas gevat en ons het dit vasgemaak. Die vis was nie te groot vir ons vrouens om te veg en laai nie. Ons het baie lekker saamgewerk met 'n gelag en skerts op die boot. Die vis is na ongeveer twintig minute op die boot gelaai en ons was in die wolke. Die gewig van die vis was 68,5 kg maar vir vier vrouens alleen 'n groot prestasie. Ek stuur foto's van die vis saam.
Groete
